Kenmare Ondersteuners

Ondersteunersklub op Facebook!
Besoek ons blad, Kenmare-Ondersteuners-klub, op Facebook, en kyk wat ons alles doen!
Laerskool Kenmare is 'n skool van uitnemendheid wat kampioene op elke gebied, nl akademie, sport en kultuur, kweek. Dit is egter so dat nie alle fasette, veral ons sport, huidiglik die status van uitnemendheid bereik het nie. Ons erken dat ons leerders wel oor die potensiaal en vermoë beskik om, met die nodige aanmoediging en ondersteuning van ouers en onderwysers, die vlak van uitnemendheid te bereik.
Doelwitte
- Ouerbetrokkenheid.
In vandag se gejaagde lewe vereis dit spesiale moeite om betrokke te wees by enige aktiwiteite wat nie werksverband is nie. Ons is dit aan ons kinders verskuldig om in alle fasette van hulle lewens betrokke te wees. 'n Kind wil graag ondersteuning en erkenning ontvang vir dit wat hy doen. Die onderwysers tydens oefenninge basies maar net verseker dat 'n stewige basis daargestel word. Met die fyner inskerping soos balvaardighede en fiksheid, kan ons as ouers onskatbare waardetoevoeging doen. Wat kan dan nou in elk geval lekkerder wees as om 'n bietjie saam met Boeta bal te skop of te gooi. - Die ondersteuningsklub kan die gees van die skool en trots in die skool 'n hupstoot gee.
As al die ondersteuners langs die veld aandui dat jy 'nKenmare Ondersteuner is, gaan ons sommer die spelpyl van ons spelers tot nuwe hoogtes optel. Wat kan 'n speler meer trots maak en daardie ekstra energie en motivering uit hom haal, as om sy ouers en sommer nog 'n hele swetterjoel mense langs die veld te sien wat spesiaal daar is om hom te ondersteun. - Om die beskikbare hulpbronne te identifiseer en te maksimaliseer.
Dit behelsnie net bloot finansiële bydraes nie, maar tyd en kundigheid. Finansies is natuurlik altyd belangrik en nodig, want in sekere opsigte maak geld wat dom is, reg wat krom is. Van die skool se kant word die essensiële toerusting verskaf soos die minimum balle, duiksakke, truie,ens. Dit is egter daardie ekstra goed wat die ervaring so spesiaal kan maak, soos energade in waterbottels en lemoene halftyd, baniere, sportsakke, ens. Seker die duurste hulpbron wat die ondersteunersklub sal vereis, is u tyd. Opofferings sal gemaak moet word, soos om eerder op 'n Saterdag ons spanne te kom ondersteun of om 'n worsbrood of tagtig te braai, as om laat te slaap. Voorts kan ons bydraes maak deur ons kundigheid beskikbaar te stel, veral om, wanneer nodig, spanne op te warm of te help met balvaardighede tydens oefeninge. - Om 'n lekker groot familie daar te stel
Die onndersteunersklub skep geleentheid waar 'n mens op 'n gemaklike manier net kan saam kuier, ontspan en mekaar van nader leer ken. - Om 'n effektiewe kommunikasielyn daar te stel.
Indien die ondersteuninsklub gemobiliseer moet word, moet dit nie net op een persoon neerkom om almal te kontak nie, maar die riemtelegraaf moet sy werk doen. Die sukses van die ondersteuningsklub lê in effektiewe kommunikasie oor wat die spesifieke doel voor oë is, sodat ons almal die wa in dieselfde rigting kan trek. - Groei en uitbreiding van die ondersteuningsklub na al die sportsoorte en kultuuraktiwiteite
Ons kinders moet nie net op die sportveld presteer nie, maar moet ook met dieselfde entoesiasme kultuur aktiwiteite aanpak.
Commitment en Lidmaatskap
Indien iets die moeite werd is om te doen, is dit die moeite werd om dit goed te doen. Die ondersteunersklub sal net suksesvol wees as ons as ouers en onderwysers “committed” is en van die begin tot die einde met ons pogings volhard om die oogmek van uitnemendheid te bereik. Ons kan tog nie van ons kinders verwag om in die klas of op die sportveld te volhard, ten spyte van terugslae, as hulle nie die voorbeeld by ons sien nie. Om ons “commitment” te wys, sal daar van elke lid van die ondersteuningsklub verwag word om 'n brief van “commitment” te onderteken, voordat u amptelik lid van die ondersteuningsklub word. Die brief sal kortliks uiteensit wat die ondersteuningsklub van u kan verwag en wat u van die ondersteuningsklub kan verwag. Daar sal dus altyd 'n verhouding van wedersydse begrip en verwagtinge wees.
Werkswyse
Die Beheerliggaam, Skoolbestuur, onderwysers en ouers is almal vennote in hierdie ondersteunersklub en almal sal ewe hard moet werk om 'n suksesstorie tot gevolg te hê. Vir praktiese doeleindes sal 'n bestuurspan van die ondersteuningsklub gestig moet word om koördinering te vergemaklik.
Met betrekking tot die rugby, word voorsien dat 'n voorsitter en onder-voorsitter verkies word om oorhoofse koördinering daar te stel. Voorts moet 'n verteenwoordiger vir elke ouderdomsgroep verkies word om op die bestuurspan te dien. Een verteenwoordiger vir die oop-spanne word voorgestel. Vergaderings sal soos en wanneer nodig deur die voorsitter belê word, om sake van belang te bespreek.
Groot algemene “vergaderings” sal op 'n sporadies wyse rondom die braaivleisvure gehou word om die gevoel van samehorigheid te behou en om belangrike aspekte soos die sopkwessie in Sjina te bespreek. Dit word voorsien dat ons sommer gesellig kan wees na 'n oefening of om 'n spesiale byeenkoms of kliniek op 'n Saterdag te reël.
Opsomming
Laerskool Kenmare se ondersteuningsklub is „n lekker manier om ons belangstelling as ouers in ons kinders te wys en saam te verseker dat ons kampioene kweek en ons skool tot die vlak van uitnemendheid neem.
Om aan te sluit by Laerskool Kenmare Ondersteunersklub, vul die aansoekvorm in en stuur aan Emile Pienaar.