Landloop

Landloop … Wat is Landloop? Landloop is die hartklop van elke ander aktiwiteit wat ons daagliks aanpak. Die oeroue gesegde sê nie verniet, ‘n gesonde liggaam huisves ‘n gesonde gees nie!

Landloop is dié sportsoort waaraan enige kind kan deelneem, hetsy met die duurste drafskoene, Tommy tekkies of kaalvoetjies. Die Sportsoort waar eerste kom nie die alfa of omega is nie. As jy die wedloop voltooi, of jou tyd verbeter, dan is jy ‘n wenner!

Met vandag se gejaagde leefstyl, kry ons kinders min kans om van frustrasies, hartseer en teleurstellings ontslae te raak, hardloop is ‘n baie goeie uitlaatklep! Ons Jeug van vandag se eetgewoontes laat ook veel te wense oor, vandaar die baie medikasie en ongesonde kinders.

By Kenmare werk ons hard om dié grootste Landloopspan in die Distrik op te bou. Elke kind is spesiaal en belangrik! Die landloopseisoen begin net voor die wintervakansie met ‘n Massalandloopbyeenkoms, waaraan elke Kennie deelneem. Of jy stap, draf of hardloop, die wedloop word voltooi. Die byeenkoms stel ons instaat om ons potensiële landlopers te identifiseer en net dalk besef iemand dis eintlik “lekker”.

Landloopligas word deur die distrik bepaal. Op die meeste is daar drie ligas in ‘n seisoen. Dus is die seisoen kort maar kragtig. Die ligas vind plaas by skole wat die geskikte perseel het vir so byeenkoms bv. Laerskool Bekker, Laerskool Hekpoort ens. Die roete is gewoonlik deur die veld, bulte op en af dat die stof so staan. As atlete kwalifiseer neem hulle aan die D2 Kampioenskappe deel. Hier word die top 6 gekies om ons Distrik by die Gautengkampioenskappe te verteenwoordig.

Landloopoefentye is op Maandag, Dinsdag en Donderdag van 16:00 – 17:00 op die B-veld en almal is welkom (Slegs 3de kwartaal). Oefening word juis later aangebied om leerders wat ander sportsoorte beoefen ook kans te gee om oefening by te woon. Ook die atlete wat privaatafrigting ontvang of self tuis oefen kan aan die ligas deelneem.

Kom probeer dit! Dalk is jy mal daaroor!